Dankie aan al die RSG-mense wat in hierdie aweregse, deurmekaar, vreemde jaar die stasie aan die gang gehou het met inhoud, vrolikheid en toewyding.

Beste [FNAME]

Dit is vir my aangenaam om julle mee te deel dat RSG se nuwe Programbestuurder Graig-Lee Vernon Smith is. Hy het uitgeblink in die onderhoude en is boonop geen vreemdeling vir RSG nie. Ek is waarlik opgewonde om saam met Graig-Lee te begin werk, en ek is seker luisteraars sal mettertyd sy aanslag ervaar. (Lees meer oor Graig-Lee.)

Covid is onvoorspelbaar. Een mens seil daardeur, die ander beland in ‘n waaksaal. Dit karring aan jou longe en smokkel dan met jou kop. Ek en ander lede van die RSG-span kan eerstehands daarvan getuig. Elkeen van ons ken nou al iemand wat deur Covid ge-eis is. Dus: bly tog so veilig moontlik, saniteer gereeld, kry die enstof as dit jou beurt is, en vermy samekomste.

Jy het steeds tyd om voor 16 Augustus vir die
Sanlam/RSG Radiodramaskryfkompetisie – met ’n allermintige R115,000 totale prysgeld – in te skryf.

Al is ons RSG-span nog nie volledig nie, bly ons aan die gang en kreatief – ons nuwe dokumentêre seisoen, en verskeie nuwe musiekreekse, het pas afgeskop – luister gerus.

Kom neem deel aan die Beeld Kinderfondsprojek en staan ‘n kans om groot pryse te wen terwyl jy kinders help, en teken ook in op “Die Dag van Môre”,’n nuwe aanlyn sepie-konsep oor die nood en vreugde van werklike en fiktiewe karakters se lewens.

Bly veilig en bly warm!

Groete,

Louise en die RSG-span

Welkom aan ons nuwe Programbestuurder


Graig-Lee Vernon Smith het pas by RSG in Aucklandpark begin as Programbestuurder. Hy is inderdaad geen onbekende by RSG nie. Lees meer oor Graig-Lee.

Moenie dié programme misloop nie!

Uit die swartse modder
Uit die Swartste Modder is ‘n dokumentêre reeks waarin vier mense vertel hoe hulle weer hoop kon vind uit hulle eie wanhoop – soms bitter pynlike en traumatiese ervarings. Reis saam oor vier episodes met mense wat geliefdes aan die dood afgestaan en ander trauma beleef het, maar tog weer hoop in hulle wanhoop kon vind. Luister Donderdagaande om 20:00 op RSG, na die reeks. Lees meer.

In ‘n nuwe musiekreeks, Toe Ons Sterre Was,  word die klanke en verhale opgediep van sangers uit die sestiger-, sewentiger- en tagtigerjare, soos Zayn Adam, Danny Williams en Neville Nash. Dit sluit ook kindersterre in, soos Jonathan Butler, Little Ronnie Joyce en Ricardo & Friends, dansgroepe en langarmorkeste. Heindrich Wyngaardt is die aanbieder van die reeks op Donderdae om 20:30-21:00, elke keer net ná die Dokumentêr. Lees meer. 

Die Midas van Musiek

Die Midas van Musiek is RSG se nuwe Sondagoggend-musiekreeks – Luister voortaan elke Sondag net na die 10:00-nuusbulletin. Die reeks word saamgestel en aangebied deur Kobus Burger. Die nuwe reeks skop af met die Ierse sangeres en liedjieskrywer Sinéad O’Connor, die “priesteres van pop”. Ander kunstenaars wat aan die bod sal kom, is onder andere Dolly Parton, Lionel Richie, Barry White, Jim Reeves, Sade, Doris Day, Herman van Veen asook Pink Martini. Lees meer. 

Tuinroete kry SA se 2e Camino
Die Tuinroete het sy eie Camino-staproete gekry. Dis geskoei op die Camino de Compostela-staproete in die noorde van Spanje en is ‘n sustersroete van die gewilde Pelgrimstog vir Hoop in die Stellenbosch- en Overberg-omgewing. Die eerste groep stappers op die Tuinroete se Camino het in die week van 14 Junie informeel gestap en die tweede formele groep het op Vrydag, 25 Junie, in Uniondale begin en het op 2 Julie, ‘n draai by die ou tolhuis onderweg na die St. Blaise-vuurtoring in Mosselbaai gemaak.
Lees meer.

Luister weer

Wil jy weer na een van dié programme luister? Klik net op die skakels.

Aktueel
Luister na besprekings van die jongste aktuele gebeurtenisse: die Zuma-saak;
Doeltreffendheid van die Covid entstowwe; Munisipaliteite se onreëlmatige uitgawes. Lees meer.

Regsake
Igna Klynsmith bespreek die sorgsaamheidsplig wat betref rondlopervee; hoe en waar om oor advertensies te kla, en reageer op die Konstitusionele Hof se Zuma-uitspraak. Lees meer.

Groeipyne
Hoe gemaak as my kind verveeld is in die skool? Jou kind het dalk uitsonderlike vermoëns of is begaafd, of dalk is hy net verveeld omdat hy lui is! Hoe hanteer jy dit as ouer en versorger? Lees meer.

Gesondheid
Is die Delta-variant se simptome anders as dié van ander variante? Wat gaan aan in Gauteng wat pasiënte en dokters betref? Wat is die jongste oor die entstowwe? Lees meer.

Wie is ek?
Is jou woede onder beheer of buite beheer? Weet jy hoe om jou woede te bestuur, en hoekom is dit nodig om hierdie basiese emosies te verstaan? Lees meer.

My Mooi Dorp
In die Sondagsriviervallei word die vallei se water baie goed bestuur, maar gebrekkige beplanning, insig, instandhouding en bestuur laat Kirkwood en al meer dorpe onnodiglik dae lank sonder water. Lees meer.

Hoe verklaar jy dit?
Wat is die impak van oorfone op die bakterieë in jou oorkanaal? Waarheen verdwyn ons sokkies ná ‘n was? Hoe haal ‘n slang asem?
Lees meer.

Sterre en Planete
Waarom is die Karmanlyn so belangrik vir ruimtetoerisme? Wat is die nuwe soort toerisme en wat kos dit om op ‘n ruimtevlug te gaan. Wat is die belangrike mylpaal by die SKA-projek? Lees meer.

Kitsskakels

RSG programme en skedules

ARTIKELS Lees die artikels met potgooi skakels
KIEKIES Laai self foto's op Ooggetuie
POTGOOIE Baie programme is op potgooi beskikbaar
PROGRAMSKEDULE As jy jou week wil beplan, kyk na dié skedule
RESEPTE Geen rede om te komkommer oor enige ete nie

Kopiereg © 2021 The Good Docs (Pty) Ltd, Alle regte voorbehou.
Klik op die volgende skakels om jou besonderhede te verander of jou intekening te kanselleer