Ons begin die nuwe jaar met gelukwense aan Sue Pyler-Slabbert en Fritz en Marlene Klaaste en verwelkom Nic de Jager terug op die lug.

Beste [FNAME]

Baie welkom by die eerste uitgawe van 2022 se nuusbrief!  Alhoewel die eerste maand ook al op sy rug lê, wil ek steeds vir jou ’n goeie jaar toewens – vol goeie geleenthede en aangename ervarings!

Gelukwense aan twee van ons spanlede: Sue se van is nou Pyler-Slabbert want sy is sedert 21 Desember ’n Mevrou. Kyk na haar mooi troufoto's! Fritz en Marlene Klaaste het ‘n baie groot kersgeskenk gekry met die geboorte van hul derde kleinkind Kenya op Oukersdag – mag die kleinding vir julle baie vreugde en geluk bring en julle op julle tone hou!

Al die luisteraars is ook natuurlik verheug om Nic de Jager se stem weer op lug te hoor. Lees meer oor sy groot skrik.

Op Sondag 6 Februarie vier ons die 50ste verjaarsdag van Loof die Here met ‘n spesiale program saamgestel en aangebied deur Magdaleen Krüger.

Die luisteraars in die Kleinmond omgewing in die Wes-Kaap sukkel die afgelope paar maande met radio ontvangs agv gereelde diefstal en plundery van die sender, en telkens maak Sentech dit reg. Ongelukkig is dit vroeg in Januarie onherstelbaar vernietig en herbou moet word. Die gemeenskap, raadslede en Sentech is nou in gesprek om te kyk na ‘n alternatiewe ligging vir ‘n nuwe toring, maar dit behels ‘n omslagtige proses wat ICASA en radiostasies betrek, en boonop finansiële implikasies het. Dit gaan dus nie net ‘n week of selfs ‘n maand neem om te herstel nie. Intussen kan luisteraars na RSG luister deur die oudiokanale van DSTV 813 of Openview 615, aanlynluister by rsg.co.za of deur die SABC Nuus se toepassing op ‘n slimfoon af te laai.

Ons het steeds vakante poste vir ‘n Bemarkingsbestuurder, Digitale Spesialis, Digitale Assistent en Musiekopsteller. Party hiervan sal dalk deur spesialiswerwing moet geskied. Intussen help of vryskutpersone of ander personeel ons intussen uit. 

Ons is ook tans besig met beplanning van programme en aanpassings vir die nuwe finansiële jaar, begrotings, administrasie, vryskutkontrakte, papierwerk – daar word gewoel en gewerkskaf tot laat in die aande!

Geniet die res van die somermaande – ons gesels weer binnekort.
Groete,


Louise en die RSG-span

Loof die Here se vyftigste verjaardag word vir twee weke lank gevier. Op Sondag 6 Februarie net na 08:00 kan luisteraars inskakel vir ‘n prograam waarin Kruger onder andere argiefmateriaal uit Smit en De Wet se programme sal insluit. ‘n Week later, op Sondag 13 Februarie, sal luisteraars se heel gewildste snitte van die afgelope vyf dekades gehoor kan word. Lees meer.
 

Moenie dié programme misloop nie!

Nuwe vervolgverhaal vanaf 2 Feb
Ons nuwe middagvervolgverhaal is Alleenmandaat deur Charles J Fourie. Die verhaal skop af met Gysbert en Katinka Jooste wat ná amper 40 jaar se huwelik en kinders grootmaak, besluit om te skei. Hulle moet hul here-huis op die dorp verkoop. Maar dis nie so eenvoudig nie. Lees meer.

Ons Februarie dokkies gaan boei
Luisteraars kan ‘n verskeidenheid en ongewone onderwerpe in ons dokumentêre reeks verwag. Van programme oor transgender-mense, ‘n gesprek met Duimpie Bayly en ‘n kykie in die lewe en werk van die toegewyde nonne van die Rooms Katolieke Kerk, tot die geskiedenis van die Kunstekaap, wat vanjaar sy halfeeu vier. Lees meer.

Komediewenners op 18 Feb aangekondig
Die wenners van RSG en NATi (Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief) se heel eerste Kwartkomedie-skryfkompetisie word op Vrydag 18 Februarie om 10:30 in Alhoebekker aangekondig. Die totale prysgeld is R40 000. Dié projek het bykans 160 inskrywings gelok. Lees meer.

Nuus oor RSG-mense

Sue wys haar troufoto's
Sue Pyler is op 21 Desember verlede jaar met Franco Slabbert getroud. Haar geliefde hondjie, Miss Vicky, was deel van die groot dag. Sue wys enkele van haar gunsteling foto's. Lees meer.

Nic is terug!
Nic de Jager is terug op sy pos na sy groot skrik. Hy vertel self kortliks wat hom weggehou het van sy geliefde Nic se goed op Sondae, want eers wat dit sy rugoperasie, toe æn hospitaalgogga en Covid tussendeur. Lees meer.

Luister weer

Wil jy weer na een van dié programme luister? Klik net op die skakels.

Ons middelklas is arm
Ons middelklas is armer as wat jy dink. ‘n Afname in sosiomaatskaplike integrasie en inklusiwiteit bedreig 31 lande, waaronder Suid-Afrika, Argentinië en Mexiko. Wat is die ekonomiese impak op die middelklas? Lees meer.

Polisie se vuurwapen-chaos
Die polisie is glo nie in staat om hulle eie vuurwapens veilig te hou nie. Altesame 3 405 polisievuurwapens is oor vyf jaar gesteel of verloor. Die manier waarop die polisie hulle eie en ander eienaars se vuurwapens bestuur, wek kommer. Lees meer.

Verbruikersregte
Weet jy genoeg van jou verbruikersregte? Athina Jansen praat in Rand en Sent met die joernalis Ina Opperman oor die regte van verbruikers, en hoe belangrik dit is om te begroot en te spaar in 2022. Lees meer.

Regsake
Igna Klynsmith praat oor die kuns van kruisondervraging. Hy bespreek onder meer die vraag of ‘n spermskenker regte het tov die kind; huwelike met buitelanders; en of toegang geweier mag word aan lesers van elektrisiteitsmeters. Lees meer.

Wie is ek?
Draai jou gedagtes om en om in jou kop soos die wasgoed in die wasmasjien? Laat dit jou vassteek? Sukkel jy om aan te beweeg? Hoe kan jy ophou om alles te oordink? Lees meer.

Gesondheid
Minstens 4 uit elke 5 mense ondervind een of ander tyd in hulle lewe pyn in die hulle laer rug. Hoekom? Wat is die rooi vlae wat verder ondersoek moet word? Wanneer is ’n rugoperasie die beste opsie? Lees meer.

My mooi dorp
Jy wil graag jou dorp vergroen en verboom. Maar hoe weet jy watter bome om aan te plant wat die beste in jou dorp gaan aard. Die bekende botanis, dr Ernst van Jaarsveld, vertel meer oor inheemse struike wat in die Hoëveld aard. Lees meer.

Landbou
‘n Boer van Noordwes beskryf besluit om ‘n Kalahari Red Goat-stoet aan te skaf een van die beste sakesbesluite wat hy nog geneem het. Luister ook meer
hommeltuie en digitale gebruike op plase. Lees meer.

Groeipyne
Hoe gemaak as my tiener vloermoere gooi, dikbek word en emosionele uitbarstings het? Johan van Lill praat met twee opvoedkundige sielkundiges, Natalie Pretorius en Tanya van der Walt, oor tieneruitdagings en -uitbarstings. Lees meer.

Sterre en Planete
Kyk na die verstommende satellietbeeld van die vulkaniese uitbarsting op 15 Januarie aan die kus van Tonga. Luister na inligting oor die ontplooiing van die James Webb-ruimteteleskoop se reuse spieëls, vog op Mars en vryswewende planete. Lees meer.

Kompas: ‘n Bom-ontlonter vertel
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens bied loopbane in verskeie velde, van forensiese wetenskaplikes en kommunikasiebeamptes tot plofstofspesialiste. Bomontlonter Robyn Grootboom, ’n bomontlonter, vertel wat sy beroep behels. Lees meer.

Dokumentêr: Die Diep Donker Web
Die wêreldwye web wat ons deur Google en ander soekenjins kan ontgin, beslaan slegs 4% van alle inligting op die groter internet. Die res is diep (90%) en baie donker (6%) met selfs netwerke vir kinderpornografie en handel in menslike organe. Lees meer.

Kitsskakels

RSG programme en skedules

ARTIKELS Lees die artikels met potgooi skakels
KIEKIES Laai self foto's op Ooggetuie
POTGOOIE Baie programme is op potgooi beskikbaar
PROGRAMSKEDULE As jy jou week wil beplan, kyk na dié skedule
RESEPTE Geen rede om te komkommer oor enige ete nie

Kopiereg © 2022 The Good Docs (Pty) Ltd, Alle regte voorbehou.
Klik op die volgende skakels om jou besonderhede te verander of jou intekening te kanselleer