Dis darem nog vroeg in 2023, daarom wil ek in ons eerste nuusbrief van die jaar vir jou ‘n goeie en gesonde 2023 toewens!

Beste [FNAME]

Dis darem nog vroeg in 2023, daarom wil ek in ons eerste nuusbrief van die jaar vir jou ‘n goeie en gesonde 2023 toewens! 

Die begin van ‘n nuwe kalenderjaar beteken vir ons die laaste kwartaal van ‘n finansiële jaar. Dit is die tyd wat strategieë en begrotings gefinaliseer word vir aktivering op 1 April. Alles saam beteken baie vergaderings, beplanning en administrasie. Dit is dus doller as kop-af hier by jou stasie.

Maar tussendeur maak ons span nuwe programme. Jy sal na ons nuwe dokumentêre seisoen op Donderdagaande om agtuur moet luister om uit te vind waar pas ‘n dam, Worsie, afwesige pa's, Sokrates en Rammstein in.

Luister ook na twee nuwe reekse wat luisteraars op Sondae kan geniet: Die klassieke musiekreeks Storie deur harmonie word om 10:00 deur Tharien Oosthuizen aangebied en in Wat het jy in jou hand om 19:00 gesels Lizelle de Bruin met mense wat baie met min doen, en die wêreld ‘n beter plek maak.

Ondanks beurtkrag-uitdagings gaan RSG voort met daaglikse uitsendings, maar die landswye sendernetwerk is onder hewige druk weens beurtkrag en faktore soos karige instandhouding en vandalisme. Gesprekke met Sentech, wat die seinverspreiding vir alle radiostasies in Suid-Afrika doen, word op die hoogste vlak gevoer.

Luister intussen gerus na die gesprek wat RSG se Programbestuurder, Kobus Burger met ‘n Sentech ondersoekbeampte Jaap Lourens gevoer het oor algemene radiokwaliteit, watter faktore uitsendings beïnvloed, hoe jy aanpassings kan maak om sake te verbeter. Luister só na RSG as die senders probleme gee.

Baie dankie vir jou ondersteuning.
Tot volgende keer,

Louise en die RSG-span

Moenie dié dokumentêre programme misloop nie!

26 Jan: Hartbeespoortdam – ‘n Eeu van verwondering
’n Arc de Triomphe in die kleine versier die damwal en toeriste hang gereeld oor die historiese muur om die watermassa te aanskou wat deur tien sluise gerig word. Maar die ontwikkeling van die dam moes baie hindernisse oorkom, het Elsje van Jaarsveld vasgestel. Lees meer.

2 Feb: Grootword sonder ‘n pa

In dié dokumentêr word die sielkundige en maatskaplike kwessies wat in duisende huishoudings afspeel weens afwesige pa’s, belig. Die skrywer en TV-aanbieder Ivor Swartz (foto) en die joernalis en oud-onderwyser Julian Jansen, is van Jody Hendricks se gaste. Lees meer.

9 Feb: Worsie het ‘n wors geword

Willie Esterhuizen is ’n huishoudelike naam onder Suid-Afrikaners ná pennevrugte soos Orkney Snork Nie, Vetkoekpaleis en Gauteng Aleng. Met ‘n koppie koffie en sjokoladekoek gesels Willie Esterhuizen en Sue Pyler-Slabbert oor hoe Worsie die koning van Afrikaanse sitkom en komiese dramas  geword het.
Lees meer.

16 Feb: Diskoers – Van Sokrates tot sosiale media

Nou meer as ooit, besef mense die mag van sosiale media. Daar is mense wat ‘n lewe daaruit maak om ander se menings oor sake te vorm. Rusbankkenners se menings word dikwels meer ernstig opgeneem as dié van werklike kenners. Weet ons nog hoegenaamd hoe om te redeneer oor ’n saak?
Lees meer.

23 Feb: Plooie van die hart

Jonna Heynke, ‘n sig-gestremde vrou van Finland, vertel haar storie van hoe haar lewenspad verander is deur ‘n prins, nie gekleed in goud en silwer nie, maar in roet en vuur. Die dokumentêr is saamgestel deur Veronique van Heyningen. Lees meer.

Luister weer

Het jy een van dié programme misgeloop? Klik net op die skakels.

Tegnologie
 ChatGPT, ’n kragtige kunsmatige intelligensie bot, kan plagiaat maklik identifiseer. Lees meer.

Regsake
‘n Strafregkenner praat oor die ontrafeling van Artikel 103 van die huidige Wet op Vuurwapenbeheer. Lees meer.

Hoe verklaar jy dit?
Hoe kan waterstof as ‘n kragbron gebruik word? Hoe slaap olifante? Ons dissekteer die goggas in jou swembad. Lees meer.

Geestesgesondheid
Wat is 'quiet quitting' en is dit goed of sleg? Lees meer.

Groeipyne
Hoekom is grondslagfase-onderwys so belangrik? Dr. Elsabe Wessels van die Fakulteit Opvoedkunde by Noordwes-Universiteit brei uit. Lees meer.

Gesondheid
Die lewe is die moeite werd. Laat net die lig in, sê drie formidabele vroue wie se lewens regstreeks deur depressie en selfdood geraak is. Hier is al vier episodes in die reeks. Lees meer.

My Mooi Dorp
Sakeliga is in verskeie hofsake aan die veg om munisipale verval te probeer omkeer. Hulle pak Eskom in die hof oor lasvermindering en veg vir die instel van betaalmeesters om korrupsie te keer. Lees meer.

Sterre en Planete
Suid-Afrikaanse satellietbouers het nog ‘n mylpaal bereik deur ‘n cubesat satelliet te lanseer, om landbouwaarnemings te doen. Nuwe navorsing wys dat ons son nie ‘n tipiese ster is nie.Lees meer.

Kitsskakels

RSG programme en skedules

ARTIKELS Lees die artikels met potgooi skakels
KIEKIES Laai self foto's op Ooggetuie
POTGOOIE Baie programme is op potgooi beskikbaar
PROGRAMSKEDULE As jy jou week wil beplan, kyk na dié skedule
RESEPTE Geen rede om te komkommer oor enige ete nie

Kopiereg © 2022 The Good Doctors (Pty) Ltd, Alle regte voorbehou.
Klik op die volgende skakels om jou besonderhede te verander of jou intekening te kanselleer