En so is nog ’n maand op sy rug!  Die veelbesproke plaaslike verkiesings is amptelik verby, en nou is die volgende besprekingspunt sekerlik Kersfees planne.
Beste [FNAME]

En so is nog ’n maand op sy rug!  Die veelbesproke plaaslike verkiesings is amptelik verby, en nou is die volgende besprekingspunt sekerlik wat gesinne en geliefdes vir Kersfees beplan. Voordat die spyskaart en aktiwiteite gefinaliseer kan word, is daar egter nog heelwat werk wat voorlê.

Agter die skerms by RSG is ons hard besig met die voorbereiding van ’n besonderse Kersdagprogram om op Saterdag 25 Desember reg deur die dag luistergenot te verskaf. Meer besonderhede hieroor is in die volgende nuusbrief met ’n gedetaileerde program vir die dag.

Desember is ook gewoonlik ’n tyd waar ons omroepers wat reg deur die jaar soveel ure bestee om vir elke luisteraar dag en nag ingelig te hou en te vermaak, ’n blaaskans neem, en sommige programme ook ’n ruskans neem vir sowat twee weke.  Gedurende hierdie tyd bring ons weer die hoogtepunte en juwele van die jaar vir jou. Diegene wat dit misgeloop het, kry dan die geleentheid om die spesiale programme en insetsels te geniet. Die spesiale vakansieprogramme gaan voorwaar ’n geskenk aan luisteraars wees!

Die afgelope paar maande het vele uitdagings vir die SAUK en RSG gehad, maar in dié tyd het ons darem van drie vaste personeellede ná die afleggings einde Maart, gevorder tot agt vaste personeellede. Ons kon elke dag uitsaai, behalwe vir die paar onderbrekings nou en dan. Hopelik help Sentech se instandhoudingswerk dat almal landwyd steeds na hul gunsteling stasie kan luister.

RSG voldoen elke maand aan die lisensievoorwaardes en mandaatlewering met goeie programme en musiek, en bowenal het ons die beste luisteraars wat lojaal en ondersteunend is! Ons wil ook dankie sê aan elke adverteerder, kliënt en vennoot wat die pad saam met ons stap – ons waardeer julle bydraes.

Geniet hierdie voorlaaste uitgawe vir 2021 met ’n blik op Nic se goed en ons neem jou ook tot in die drama-ateljees. Indien jy nog nie vir een van die Oppiwaters van 2022 bespreek het nie, kyk gerus na die gewilde bootrit wat net vir jou wag om die anker te lig.

Groete,

Louise en die RSG-span

Reekse op RSG duur tradisioneel drie maande oftewel 13 episodes. Nic se goed was van meet af aan so gewild dat die program steeds Sondae tussen 12:00 en eenuur gehoor kan word – met meer as 380 uitsendings agter die blad!  Die aanbieder is die ewig-sjarmante Nic de Jager. Met Nic se goed, speel hy musiek uit sy eie versameling, en deel staaltjies en wyshede. Lees meer.

Moenie dié programme misloop nie!

Dramas in November
Hemelblou, ‘n sensitiewe verhaal oor die verwerking van dood en verlies, en die helende krag van vriendskap. Dit word 4 November uitgesaai. Wessel Pretorius het sy verhoogstuk Wildeals vir RSG verwerk. Ander dramas wat in November volg, is Nicola Hanekom se Donkerhoek oor familiegeheime, die ligte romantiese Kronkelpad, en Marlise Joubert se Onder die appelliefiebos, ‘n fyn, sensitiewe drama. Lees meer.

Wen met jou kort komedie
Skryf in vir RSG en NATi (Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief) se heel eerste Kwartkomedie-skryfkompetisie vir komiese radiodramas met ‘n totale prysgeld van R40,000. Die sluitingsdatum is Dinsdag 30 November 2021. Die vier wendramas sal in 2022 op RSG uitgesaai word. Lees meer.

Musiekreeks oor beroemde violiste
Een van die land se bekendste violiste, Zanta Hofmeyr is die aanbieder van die musiekreeks, Beroemde violiste van die 20ste eeu, wat Sondagoggende tussen 10:00 en 11:00 op RSG uitgesaai word. Lees meer.

Nog ‘n nuwe Kompas aanbieder
Francois van der Merwe is ons nuwe Kompas-aanbieder op ‘n Dinsdagaand. Hy is van Brackenfell en is tans besig om sy matriekjaar te voltooi aan die Hoërskool Bellville.

Lees meer.

Oppiwater Kunstefeeste na Mosambiek Pomene
Ons Durban/Mosambiek Oppiwater Kunstefees word van 4-8 April 2022 aan boord van die die luukser en groter MSC Musica aangebied. RSG-omroepers Amore Bekker, Derrich Gardner en Johan Rademan gaan hierdie Oppiwater meemaak. Lees meer.

Luister weer

Wil jy weer na een van dié programme luister? Klik net op die skakels.

Skrywers en boeke
In Johan Myburg se internasionale insetsel kan jy meer uitvind oor die wenner van vanjaar se Nobelprys vir letterkunde, Abdulrazak Gurnah, wat ook een van sy kortverhale voorlees. Ilse Salzwedel gesels met Nicole Jaekel-Strauss oor haar roman, Om alleen te gaan, en ons vind meer uit  oor vanjaar se US Woordfeesbundel. Lees meer.

Regsake
Igna Klynsmith bespreek ‘n Appèlhofuitspraak oor nalatigheid nadat ‘n vrou deur ‘n winkel-valhek beseer is, en ‘n saak oor middellike aanspreeklikheid. Hy gesels oor bates wat deel is van ‘n bestorwe boedel wanneer mense binne gemeenskap van goedere getroud is, en bespreek ‘n KVBA-saak oor taalgebruik op sosiale media. Lees meer.

Wie is ek?
Ons hoor gereeld van tieners wat hulleself met opset seermaak – hetsy deur hulself te sny, vuiste teen mure te slaan, te veel te oefen, oormatig te dieet, ens. Wat staan ouers te doen? Hoe kan hulle die tekens raaksien. Lees meer.

Gesondheid
Meer as 60 miljoen mense in die wêreld ly aan hartversaking. Die helfte gaan binne 5 jaar sterf. Nuwe generasie diabetesmiddels help nou om hartversaking en nierversaking in mense met of tipe 2 daibetes te verminder. Lees meer.

Geestesgesondheid
Hoe onderskei mens tussen Major Depressie, Bipolêre Gemoedsteurnis en ander vorms van depressie? Christelle Webb-Joubert praat met ‘n sielkundige oor die verskillende soorte depressie. Lees meer.

Landbou
Waarom is die spoed van inkuiling so belangrik by kuilvoer? Wat het onlangs met wolpryse gebeur? Wat moet ‘n boer weet van dikkopsiekte, wat veral onder skaap- en bokramme voorkom. Lees meer.

Hoe verklaar jy dit?
Hoe onstaan windrigtings? Wat is die broeigedrag van grootpoot-voëls? Hoekom huil ons? Is rooibostee voordelig vir skape? ‘n Paneel wetenskaplikes beantwoord luisteraars se vrae oor die wetenskap. Lees meer.

Sterre en Planete
Luister hoe klink die metaalwiele van Perseverance op die klippe van Mars. Die Andromeda-galaksie is in November op die noordelike horison te sien. ‘n Satelliet se verbyvlug het ruimtewetenskaplikes laat kopkrap. Lees meer.

Kitsskakels

RSG programme en skedules

ARTIKELS Lees die artikels met potgooi skakels
KIEKIES Laai self foto's op Ooggetuie
POTGOOIE Baie programme is op potgooi beskikbaar
PROGRAMSKEDULE As jy jou week wil beplan, kyk na dié skedule
RESEPTE Geen rede om te komkommer oor enige ete nie

Kopiereg © 2021 The Good Docs (Pty) Ltd, Alle regte voorbehou.
Klik op die volgende skakels om jou besonderhede te verander of jou intekening te kanselleer