In C. Louis Leipoldt se mooiste, mooiste maand begin ’n nuwe kwartaal by RSG vol mooi aanbiedinge!
Beste [FNAME]

In C. Louis Leipoldt se mooiste, mooiste maand begin ’n nuwe kwartaal by RSG vol mooi aanbiedinge! Ons nuwe radiodramaseisoen elke Donderdagaand om agtuur gaan jou vasgenael voor die radio hou! Sondae oggende net na 10 uur kan jy luister na een van die land se bekendste violiste, Zanta Hofmeyr se nuwe musiekreeks Beroemde violiste van die 20ste eeu.  Op Sondagaande net na sewe uur is Flip Loots en prof Christina Landman terug met ’n nuwe reeks van Geloof wat grondvat.  Die jonger gehoor kan nou ook Vrydagaande om 19:30 inskakel vir ’n ekstra Kompas program met nuwe aanbieder Chrislynn Sias.

In Oktober is dit ook baie bedrywig agter die skerms. Dié tyd van die jaar begin ons met evaluering van half-jaar vordering, en terselfdertyd beplanning van die nuwe finansiële jaar se strategie en begroting en moontlike aanpassings – dit verg dus weke van voorleggings, werksessies en besprekings met verskeie rolspelers en forums, en terseldertyd moet die gewone werk aangaan. So as ek weer my oë knip is dit seker einde Desember!

Die afgelope tyd het Sentech heelwat instandhoudingswerk in verskeie dele van die land gedoen om te verseker dat die toerusting behoorlik werk en jy liewe luisteraar jou gunsteling radiostasie sonder steuring kan geniet. Dit gaan egter nie so goed in die Kleinmond omgewing nie; sodra die toerusting vervang word, word dit dieselfde aand gesteel en die substasie geplunder.  Ná gesprekvoering gaan Sentech nou kyk hoe hulle sekuriteit kan verbeter, asook die plaaslike Polisie betrek om die area te beveilig. In dié stadium kan luisteraars in die Kleinmond omgewing dus slegs aanlyn op rsg.co.za luister, totdat Sentech die situasie kan oplos. Dit is ’n saak van erns en word op die hoogste vlak van beide die SAUK en Sentech hanteer, so ek hoop dat ons Kleinmond luisteraars een van die dae weer breed kan glimlag.   

In aanloop tot die plaaslike verkiesing wat op 1 November plaasvind, sal daar tye wees wat politieke partye hul verkiesingsmanifeste bekendstel en advertensies uitgesaai word. Programme sal gewy word aan debatte en ontleding om die publiek in te lig en te bemagtig met kennis. Dié dekking geskied volgens die spesifieke verkiesingsriglyne van die reguleringsowerheid OKOSA. Luister gerus, maak ’n ingeligte besluit en trek jou kruisie op 1 November.

Kyk mooi nou jouself en ons gesels gou weer.

Groete,

Louise en die RSG-span

Nuwe musiekreeks oor beroemde violiste


Een van die land se bekendste violiste, Zanta Hofmeyr is die aanbieder van ‘n nuwe musiekreeks wat Sondagoggende tussen 10:00 en 11:00 op RSG uitgesaai word. Die reeks, Beroemde violiste van die 20ste eeu, het op 3 Oktober begin. In die reeks van 13 episodes fokus sy onder meer op van die beroemdste vroeë 20ste eeuse komponiste, beroemde konsertmeesters en filmmusiek vir vioolsolo’s. Lees meer.

Moenie dié programme misloop nie!

Kom skryf ‘n kort komedie
RSG en NATi (Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief) het die heel eerste Kwartkomedie-skryfkompetisie vir komiese radiodramas aangekondig. Dié nuwe kompetisie met ‘n totale prysgeld van R40,000 is vir kort, komiese radiodramas van ‘n kwartier lank. ‘n Volledige handleiding wat ook die reëls en inskryfvorm bevat, is gratis op RSG se webblad beskikbaar. Die sluitingsdatum is Dinsdag 30 November 2021. Die vier wendramas sal in 2022 op RSG uitgesaai word. Lees meer.

Ons nuwe radiodrama-seisoen

Die tweede radioteaterseisoen spog met besondere eerstes. Dit sluit in die eerste plekspesifieke drama op radio. Dis ook die eerste radiodrama deur vanjaar se Hertzogpryswenner vir Drama, Nicola Hanekom. Die seisoen het pas begin met ‘n radioverwerking van die solostuk Klipgebede, deur Schalk Schoombie, waarna jy weer kan luister. Elma Potgieter vertolk die rol van die vrou wat vir ewig die letsels van gesinsgeweld dra. Lees meer.

Willem se 600e U eie keuse

Willem Pelser het op 4 September die 600e keer U eie keuse,aangebied. Hy ontvang ongeveer 50 tot 150 versoeke per week, waarvan hy net tien tot dertien kan kies om ingesluit te word. U Eie Keuse is die oudste program op Suid-Afrikaanse radio. Lees meer.

Welkom by RSG, Elsje!
Elsje van Jaarsveld, RSG se nuwe Senior Vervaardiger Kontinuïteit, het in Oktober by ons aangesluit. Dié kind van Brits was sewe jaar lank ‘n aanbieder by Pretoria FM. Sy is baie opgewonde oor haar nuwe reis by RSG en sien veral daarna uit om deel te wees programbeplanning en skakeling met die luisteraars en kollegas by RSG. Lees meer.

Nuwe Kompas aanbieder is geesdriftig
Chrislynn Sias is die nuwe aanbieder van Kompas op ’n Vrydagaand. Sy is baie opgewonde oor die nuwe geleentheid by RSG. “Afrikaans is my taal – die taal waarin ek leef, droom en werk en een waarin ek nou ’n opwindende geleentheid kry om met luisteraars te kommunikeer. Ek kan nie wag om aan die werk te spring nie!” Lees meer.

Twee Oppiwater Kunstefeeste in 2022
Ons Kaapstad/Namibië Oppiwater Kunstefees word van 18-24 Januarie 2022 en ons Durban/Mosambiek Oppiwater Kunstefees word van 4-8 April 2022 aangebied. Albei feeste word aanboord die luukser en groter MSC Musica aangebied, met meer as 20 top Afrikaanse Teaterproduksies op albei kunstefeeste. Lees meer.

Luister weer

Wil jy weer na een van dié programme luister? Klik net op die skakels.

Praat Saam
Hoe word kragtariewe en -voorsieng as ‘n speelbal gebruik en verpolitiseer in die aanloop tot ‘n verkiesing? Inwoners van Naledi in Soweto het aan Ramaphosa gesê die ANC luister net na hulle griewe voor ‘n verkiesing, maar daar word dan niks aan gedoen nie. Lees meer.

Regsake
Igna Klynsmith beantwoord vrae oor die vererwing van skuld, die beginsel dat mede-eienaars van bates geregtig is op gelyke voordele van die bates, en hoe en waar om te kla oor jou mediese fonds. Die beste van die maand se Regsake programme is een klik weg. Lees meer.

Geestesgesondheid
Hier is raad vir volwasse kinders oor hantering van hul ouers se egskeiding. Christelle Webb-Joubert se gas is Marizanne Knoesen. Sy praat oor ‘n gids wat sy geskryf het oor hoe om jou ouers se egskeiding te hanteer as volwasse kind. Lees meer.

Gesondheid
Het jy geweet dat mense se brandwonde dalk binnekort met ‘n ‘lewende’ 3D-gedrukte biomatriks behandel kan word? Mari Hudson gesels met ‘n polimeerwetenskaplike oor dié navorsing. Sy kyk ook na feite en mites oor Covid. Lees meer.

Groeipyne
Skermverslawing het ‘n negatiewe impak op kinders se konsentrasievermoë, aandag, geheue, slaapgewoontes, algemene gesondheid en ontwikkeling. Lees meer.

Landbou
Hoewel die mark vir makadamianeute relatief klein is in vergelyking met ander neute, word Suid-Afrika tans gesien as die wêreldleier wat produksie betref. Lees meer.

Hoe verklaar jy dit?
Wat is kwik? Die span praat oor kwik se giftige geskiedenis en sy alledaagse gebruike. Daar word antwoorde gegee vir die vreemde verskynsels wat te sien is by Hondeklipbaai aan die Weskus van Suid-Afrika. Lees meer.

Sterre en Planete
Wat is terraformering? En wat van die baie koue plekke op die maan – plekke wat oor miljoene jare nog nooit die son gesien het nie. Hoe werk die slingervelmetode om ruimtetuie te laat versnel? Lees meer.

Kitsskakels

RSG programme en skedules

ARTIKELS Lees die artikels met potgooi skakels
KIEKIES Laai self foto's op Ooggetuie
POTGOOIE Baie programme is op potgooi beskikbaar
PROGRAMSKEDULE As jy jou week wil beplan, kyk na dié skedule
RESEPTE Geen rede om te komkommer oor enige ete nie

Kopiereg © 2021 The Good Docs (Pty) Ltd, Alle regte voorbehou.
Klik op die volgende skakels om jou besonderhede te verander of jou intekening te kanselleer