Dis ysig koud, beurtkrag is met ons, maar ons is gereed vir nuwe dinge. Ek hoop jy het RSG se eerste regstreekse rugby-uitsending van die afgelope twee jaar geniet!

Beste [FNAME]

Dis ysig koud, beurtkrag is met ons, maar ons is gereed vir nuwe dinge. Ek hoop jy het RSG se eerste regstreekse rugby-uitsending van die afgelope twee jaar geniet! Ons moes agter die skerms woel om dit reg te kry!

Nuwe reekse wat in Julie begin, sluit in ons tweede dokumentêre seisoen vir 2022, net na 20:00 op Donderdagaande. Die ander nuwe reekse is Fenominale vroue van die Bybel en Rymklets sonder Grense, en die derde reeks van die Midas van Musiek. Ja, in aanloop tot die 85-jarige vieringe van Afrikaanse radio in Oktober wil ons ons luisteraars bederf! 
 
In die vorige nuusbrief het ek ’n oorsig gegee van die meningspeiling se terugvoer. Dis ’n jammerte dat die drukmedia gereeld halwe waarhede deel en soms blatante feitefoute maak. Ek nooi jou graag om na die potsending te luister waar ek agtergrond en inligting deel te midde van al die woelinge die afgelope tyd. Bemagtig jouself met die korrekte inligting – en luister ook gerus self na programme en musiek. Ons luister voortdurend na luisteraars se terugvoer. Ek sal julle op hoogte hou van verdere verwikkelings. Wees verseker dat ons inhoud van hoë gehalte aan ons luisteraars wil bied, en te alle tye aan al ons mandaat-voorskrifte voldoen.
 
Baie geluk aan Alida Coupe van die Oos-Kaap wat die wenner van die RSG geskenkpak ter waarde van R1000 was! Uit die byna 8,000 deelnemers van die meningspeiling het die rekenaar haar lukraak as wenner bepaal. Alida sê sy is baie bly oor die groot sambreel vir wanneer dit in die Baai gaan reën, die oulike boeke, mooi musiek en heerlike verrassing – veral die versteekte artikels in die briewetas!  Dit het haar dag gemaak!
 
Ons verwelkom ook RSG se bemarkingsbestuurder, Amore Swanepoel wat op 1 Junie by die span aangesluit het! Ons het ‘n besige maand gehad met die Royal Skou in Pietermaritzburg, die Winterhoopprojek, ‘n buite-uitsending in die ysige koue by Meat World in Boksburg, onderhoude vir vakante poste, beplanning vir die 85-jaar vieringe, en verskeie ander projekte wat in die pyplyn is.

Besoek gerus rsg.co.za of volg ons op Twitter by @zarsg vir gereelde inligting, potgooie van programme, resepte en veel meer.  
 
Dankie dat jy inskakel op RSG!
Tot volgende keer.

Louise en die RSG-span

Moenie dié programme misloop nie!

Die Midas van Musiek

Die derde reeks van die gewilde Die Midas van Musiek het pas begin op Sondag 3 Julie. Luister net na 10:00 op RSG. In hierdie reeks van dertien episodes sal die goue treffers van kunstenaars soos Nat King Cole, Doris Day, Sade, Kenny Rogers, Dean Martin, Rita Coolidge, Cher, Neil Diamond, Dolly Parton en The Mamas & The Papas gehoor word. Die aanbieder en samesteller is Kobus Burger. Lees meer.

Nuwe vervolgverhaal
Die veteraanskrywer van radiodramas en vervolgverhale, Joe Kleinhans het ‘n splinternuwe middagvervolgverhaal vir RSG geskryf. Ou liefde roes, het op 23 Junie begin. Die verhaal speel af in Wingerdsvlei. Liefde, afguns, ‘n moord en baie raaisels sal jou vasgenael hou. Luister weeksmiddae om 14:45. Lees meer.

Hans is terug op RSG
Die nimlike Hans van Kraaienburg is terug en “bars die bioborrel”! Rudi van Rensburg se derde roman oor Hans en sy vriende se kaskenades in die Huis Madeliefie aftreeoord, is RSG se nuwe oggendboekvoorlesing vanaf 27 Junie. Die leser is weer Tobie Cronje. Luister weeksdae om 10:45. Lees meer.

Ons 2e dokkie-seisoen
 Ons tweede dokumentêre seisoen van 2022 begin op 7 Julie, met ‘n groot verskeidenheid wat op jou wag - van ‘n verlate spoorwegdorpie tot SA se grootste botaniese tuin, van Distrik Ses tot die uitwerking van Diensplig, om enkeles te noem. Lees meer.

Nuwe reekse in Julie
Fenominale vroue van die Bybel en Rymklets sonder grense is buiten die Midas van Musiek en die dokumentêre seisoen, nuwe reekse wat vandeesmaand afskop. Luister Sondagaand om 19:00 na Fenominale vroue waar die lewens van verskeie Bybelse vroue van naderby bekyk en bespreek word. Skakel Donderdagaande om 20:30 in op die voetspore van Rymklets.  Die program belig die herkoms van die musiekgenre en die verskeie ontwikkelingsfases wat gelei het tot die status wat dit vandag geniet. Frazer Barry belig verskeie aspekte van rymklets soos die ontstaan, geskrewe vorm en kulturele impak daarvan. Lees meer.

Luister weer

Wil jy weer na een van dié programme luister? Klik net op die skakels.

Landbou
‘n Staatsveearts bring ons op hoogte van alles wat ons van Afrika-perdesiekte behoort te weet. Ons hoor ook wat die huidige stand van sake met bek-en-klouseer is, en waar boere kan aanklop vir hulp en raad. Lees meer.

Regsake
‘n Skikking van agterstallige huurgeld, die PIE-wet (Prevention of Illegal Eviction from Unlawful Occupation of Land Act) en hoe om ‘n uitsettingsbevel te bekom word bespreek asook artikel 7 (3) van die Wet op Egskeidings. Lees meer.

Wie is ek?
Hoekom hou ek nie van myself nie? Sukkel jy om jouself lief te hê? Hoor hoekom, en hoe, jy hierdie pad van rigting kan laat verander. Lees meer.

Gesondheid
Hoe werk bloedstolling? Waar pas bloedplaatjies, kollageen en vitamien K in die hele proses in? Hoeveel bloed kan jy verloor, en nog lewe? Lees meer.

Sterre en Planete
Kan daar vuur gemaak word in die Internasionale Ruimtestasie? indien wel, hoe sou so ‘n vuur lyk? Die aarde se atmosfeer swel, wat meebring dat sommige satelliete gouer in die atmosfeer uitbrand. Lees meer.

Hoe Verklaar Jy Dit?
Hoe het Homo Sapiens ontstaan? Spinnekoppe, slange en paddas kan giftig wees. Is daar ook giftige soogdiere? Is jou houtbord in die kombuis meer higiënies as jou plastiekbord? Lees meer.

Kitsskakels

RSG programme en skedules

ARTIKELS Lees die artikels met potgooi skakels
KIEKIES Laai self foto's op Ooggetuie
POTGOOIE Baie programme is op potgooi beskikbaar
PROGRAMSKEDULE As jy jou week wil beplan, kyk na dié skedule
RESEPTE Geen rede om te komkommer oor enige ete nie

Kopiereg © 2022 The Good Doctors (Pty) Ltd, Alle regte voorbehou.
Klik op die volgende skakels om jou besonderhede te verander
of jou intekening te kanselleer